Lees Matteus 13:1-9.
“’n Saaier het eendag gaan saai” (v 3).
Saad is ’n snaakse ding. Dit groei gewoonlik op enige plek. Gee dit net ’n stukkie grond, dan kom dit gou-gou op. Die probleem is egter dat dinge soos dorings en onkruid dit ook weer maklik doodgroei. En dat saad glad nie lank hou as dit nie in diep genoeg grond beland het nie. Saad het vrugbare grond nodig om te groei. Saad het goeie grond nodig om sterk bome op te lewer wat later weer baie vrugte kan dra.
Jesus vertel dat die Goeie Nuus ook soos saad is. Dit val op vier soorte grond, maar slegs op die laaste stukkie, die goeie grond, dra dit blywende vrug. Kortom, net in 25% van die gevalle, volgens hemelse statistiek, lewer die evangelie permanent resultate op. Volgens Jesus se berekening verwerp 25% van almal wat die evangelie hoor, dit dadelik. ’n Volle 50% van die hoorders bêre dit vir ’n wyle in hulle hart, totdat bekommernis, geldgierigheid en swaarkry die Goeie Nuus uit hulle hart kom roof. Dus, 75% van alle mense wat die evangelie hoor, sal dit op die ou end nie glo nie. Skokkende feite!
Maar, Goddank, die laaste kwart van almal wat die Woord hoor, gryp dit aan. Hulle lewe verander vir altyd. Ja, hulle dra vrug, oorvloedig: dertigvoudig, sestigvoudig, selfs honderdvoudig! Praat van ’n ongelooflike opbrengs! Die evangelie gaan uiteindelik óf dood in jou lewe, óf dit groei oordadig tot eer van God. Watter soort saad is jy?
Here Jesus, maak my hart goeie grond vir u saad.
Stephan Joubert