Boodskap vir Vandag

Search

Wees suksesvol op die regte plekke

Lees Lukas 12:22-34.

“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee” (v  32).

Die kerk is vandag gans te suksesvol op die verkeerde plekke! Daar word te veel gefokus op materiële gewin. Jesus het nooit bedoel dat die kerk in wêreldse terme ’n reusesuksesverhaal sou wees nie. Allermins. Sy mense is weerloos, swak en klein. Hulle is ’n klein kuddetjie, nie ’n reusevertoonvenster van eie vermoëns en vaardighede nie. Hulle leef immers tussen gevaarlike wolwe, tussen mense wat hulle wil leed aandoen.

Tog is God se kerk suksesvol op die regte plekke. Hulle is mense wat harte het vir die armes en die stukkendes. Gelowiges is daarom altyd gereed om die noodlydendes te help. Hulle beste vriende is diegene wat swaar kry en nie meer weet hoe vorentoe nie. Daarom dat Christene nie huiwer om hulle besittings weg te gee aan mense in nood nie. Hulle is baie suksesvol agter die skerms, tussen die mense wat ly. Daar waar niemand anders bereid is om diens te lewer nie, sal volgelinge van Jesus graag aanmeld vir diens. Daar waar almal anderpad kyk, sal sy mense nood en seerkry in die oë kyk en bereid wees om iets daaraan te doen!

Is jy vandag deel van die eintlike suksesstorie van die kerk, of hou jy nog van die uiterlike geestelike versierings? Wel, kry jou prioriteite reg en word deel van die klein kudde van ons Here wat ’n warm hart en ’n oop hand vir ander het.

Jesus, Here, maak my oë oop en sommer my hande ook vir ander se swaarkry.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.