Lees 1 Petrus 2:2.
Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk (v 2).
Geestelike leiers kla dat hulle deesdae omtrent al hulle tyd afstaan om geestelik onvolwasse kerklidmate ten dienste te wees. Ja, party lidmate is die mees eiegeregtige mense aan wie jy kan dink. Hulle is ’n regte spul klakouse, beterweters, geestelike boelies en smartvrate.
Hoe wonderlik is dit aan die ander kant om tog wel ’n groot klomp gebalanseerde mense in die kerk te hê. Hulle is mense wat weet wat God van hulle verwag en dit sommer op eie stoom doen; mense wat nie net heeltyd sit en kritiseer nie.
Wees soos hierdie mense. As jy agterkom dat jy dalk nog in jou geestelike kinderskoene staan, doen dan iets daadwerkliks daaraan. Smag soos ’n klein babatjie na die regte geestelike kos uit die hand van die Here. Dit sal jou blitsvinnig laat opgroei en sterk word. Begin vaste spyse inneem. Eet die Woord. Lees dit. Dink daaroor na. Bêre elke woord wat van God af kom in jou hart se brandkluis. Bepeins dit en maak dit deel van jou lewe. Vertel ook vir ander van al die groot dinge wat God besig is om in jou te doen. Dan groei jy in die regte rigting.
Vader, gee vir my vaste kos sodat ek geestelik kan groei.
Stephan Joubert