Lees 1 Konings 3:1-15.
“Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk reg sal regeer en in alles insig sal hê” (v 9).
Wat ’n ongelooflike droom het Salomo nie daar in Gibeon gehad nie! Die Here het aan hom verskyn en aan hom gevra wat hy wou hê. Dit klink omtrent soos daardie sprokie waar jy drie wense kry. Die enigste verskil hier is dat die lewende God nou aan Salomo die kans bied om te vra net wat hy wil hê. Wat sou jy gekies het? ’n Mooi huis? Gesondheid? ’n Lang lewe? Dalk ’n sak vol geld? Salomo het nie een van hierdie dinge gevra nie. Hy wou niks vir homself hê nie. Nee, Salomo het besef dat hy veels te onkundig en swak is om oor die volk van die Here te regeer. Daarom het hy wysheid en insig van God gevra sodat hy die Israeliete goed kon regeer. Die Here was baie bly oor Salomo se keuse. Omdat Salomo nie ’n lang lewe, geld of die vernietiging van sy vyande gevra het nie, het God besluit om sy versoek toe te staan. Boonop het God besluit om daardie dinge waarvoor sy dienaar nie gevra het nie, naamlik rykdom en aansien, ook aan hom te gee. Al wat Salomo moes doen, was om God se voorskrifte na te kom, dan sou hy ryklik geseën word.
Leef jy net vir jouself? Is jou gebede op jouself gerig, op jou eie geluk en voordeel? Kom leer by Salomo dat dit God se hart bly maak wanneer jy uit die pad staan sodat Hy ander mense kan begin seën. Word ’n kanaal van lewende water vir ander!
Here, ek smag na u ware wysheid en insig.
Stephan Joubert