Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Gaan doen liefde, moet dit nie net praat nie

Lees Romeine 12:9-13.

Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar (v  10).

Wanneer laas het jy ’n verskil aan iemand anders se lewe gemaak? Nee, regtig! Het jy onlangs moeite gedoen om vir iemand wat mank deur die lewe stap ’n kruk te wees? Of dalk ’n bekertjie koue water te word vir iemand wat regtig dors is?

Paulus leer ons dat liefde dade is. Ja, dit is gevoelens ook. ’n Mens voel liefde vir ander ook mos in jou hart. Maar dit is veel meer as net ’n emosie. Liefde is dade. Dit word gedoen. Dit word in aksie gesien! Die Here se soort liefde mond altyd uit in dade. Nee, dit is in die eerste plek dade; daarna loop dit eers oor in gevoelens!

Jy sien Christus se liefde in aksie waar Christene hulle moue begin oprol en ander gelowiges help wat nood het. Jy hoor liefde wanneer Christene met sagte woorde antwoord wanneer ander hulle vloek of slegsê. Christus se liefde kry regtig betekenis wanneer sy mense nie wraak neem as ander hulle te na kom nie.

Christus se liefde het ’n prys. Dit is nie maklik om sy soort liefde te beoefen nie. Want dit laat jou gereeld opstaan uit jou gemakstoel om saam met mense te gaan stap wat swaar kry. Dit verplig jou om elke wraakgedagte in die hangkas weg te pak. Jesus se liefde verander jou in iemand wat daagliks ’n tweede kilometer aandurf; die ander wang draai; sagte woorde aanbied waar haat hoog vlam. Leef jy hierdie soort liefde? Indien nie, is dit dalk hoog tyd!

Jesus, laat u liefde deur my in ander se lewe posvat.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.