Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hoe warm klop jou hart vir ander?

Lees Galasiërs 4:17-20.

My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry (v  19).

Dit is ’n risiko om by ander se lewe betrokke te raak. Want soms spoel die pyn en hartseer in hulle lewe oor na jou toe. Kort voor lank word hulle probleme joune. Dan is jy betrokke, of jy dit wil weet of nie! Wel, as jy ’n gelowige is, dan waag jy graag sulke soort risiko’s aan. Want jy kan nie op die kantlyn staan as ander seer het nie. Jy kan nie met gevoude armpies staan en toekyk terwyl mense rondom jou bloei en pyn het nie. Want Jesus se liefde dring jou om betrokke te raak. Dit dwing jou om uit te reik, om om te gee!

Paulus het intens meegeleef met die gelowiges se probleme in die gemeentes wat hy gestig het. Hulle vreugde was sy vreugde en hulle hartseer was ook syne. Daarom dat hy so ontsteld was toe hy agterkom dat die Galasiërs terugval in ’n wettiese godsdiens waar hulle van voor af probeer om al God se wette na te kom om gered te word. En dat hulle selfs oorweeg het om hulle te laat besny om God se guns te probeer wen! Hy was so omgekrap daaroor dat hy maar weer betrokke geraak het.

Paulus kon nie anders as om sy pen nader te trek nie. Hy skryf dat hy tans in geboortepyne oor hulle is. Hy kan dit nie verduur dat hulle die pad byster is nie. Dit het sy hart gebreek. Daarom sy intense worsteling met hulle om hulle weer op koers te kry. Leer by hom om ’n warm hart vir ander te hê. Laat ander se nood vandag swaar op jou hart lê. Doen iets vir hulle!

Christus, maak my hart en hande oop vir mense.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.