Lees Genesis 14:18-24.
“Geloof sy God die Allerhoogste!” (v 20).
Abram se taak het veel meer ingesluit as om net grond vir die Here terug te wen. Want God is by mense betrokke. Hy wil mense red. Hulle is altyd die heel hoogste op sy agenda. Daarom dat selfs magtige konings soos Melgisedek van Abram kennis geneem het. Want God het Abram tot ’n seën vir baie mense rondom hom gemaak. Ander het begin kennis neem van alles wat God deur Abram doen. Daarom het Melgisedek op ’n dag selfs die Here se seën uit die hemel oor hom afgebid.
Abram was die Here se lewende seën in die lewe van ander. Hy was as ’t ware soos ’n venster waardeur hulle God se grootheid en goedheid kon raaksien. Hulle kon in sy lewe duidelike tekens van God se krag opmerk.
Is dit nie fantasties dat die Here so kragtig deur ’n mens kan werk dat ander ook daarvan bewus raak nie? Ons wêreld is so ontsettend kragteloos. Die meeste mense strompel hulpeloos rond sonder hoop en sonder rigting. Maar wanneer jy daagliks ingeskakel is by die hemelse kragstasie, dan verander jy in ’n lewende seën vir ander. Dan maak jy ’n verskil aan die lewe van jou huismense, jou werksmense, jou vriende. Ja, dan word jy ’n kanaal waarlangs God se lewende water gedurig vloei. Kom haal daarom vandag jou porsie hemelse krag sodat jy ’n seën kan wees vir ander mense.
Christus, maak my vandag tot seën vir ander.
Stephan Joubert