Lees Handelinge 28:15.
Toe Paulus hulle sien, het hy God gedank en moed geskep (v 15).
Ná maande se swaarkry op see, het Paulus uiteindelik in Rome, die hoofstad van die wêreld van sy tyd, aangekom. Daar sou hy voor die Romeinse keiser verskyn. Maar sy grootste vreugde was toe die gelowiges van Rome hom duskant Rome kom ontmoet het. Hulle het Paulus immers geken deur sy brief wat hy vroeër aan hulle geskryf het. Nou het hulle mekaar in lewende lywe ontmoet.
Gelowiges is altyd opgewonde wanneer hulle in die vreemde medegelowiges raakloop. Ek onthou hoe opgewonde ek was om in St Petersburg in Rusland ’n klompie Russiese Christene raak te loop. Dadelik het ons gemeenskaplike band in Christus alle grense laat vervaag.
Word jy ook bemoedig deur medegelowiges? Geniet jy dit om in die teenwoordigheid van ander kinders van die Here te wees? Is hulle stralende ligte in jou eie lewe? Nog belangriker: Is jy self ’n baken van hoop vir ander gelowiges? Straal jy liefde en warmte uit? Wil ander gelowiges graag in jou geselskap wees? Sorg dan dat jy elke dag die Here se vrede en liefde weerkaats.
Here Jesus, dankie dat u liefde deur my vloei.
Stephan Joubert