Boodskap vir Vandag

Search

Gebalanseerde Christene maak ruimte vir ander

Lees Romeine 14:10-12.

Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? (v 10).

Die bekende skrywer George Bernard Shaw het op ’n keer gesê: “Balanced people adapt themselves to the world; unbalanced people adapt the world to themselves. That’s why the world is ruled by unbalanced people.” Ware woorde! Ons bestee dikwels baie tyd om al daardie onredelike mense rondom ons se neuse uit ons lewe te probeer hou. Geestelike leiers hardloop baie maal rond om die gevegte te probeer uitstryk wat sulke mense deur hulle inmengery veroorsaak. Want hierdie ongebalanseerdes eien mos vir hulle die reg toe om ’n vry sê oor alles en almal te hê. Ongebalanseerdes meen om die een of ander rede hulle het iewers ’n spesiale lisensie ontvang om ongeskik, veroordelend en inmengerig te wees.

Gelowiges wat regtig op die Here se pad stap, het egter geleer om die verantwoordelikheid vir hulle eie lewe te dra. En om nie hulle neuse van vroeg tot laat in ander se sake te steek nie. Hulle sorg dat hulle eie verhouding met God op die regte koers is en meng nie ongevraagd in ander se lewe in nie – behalwe as daardie mense swaar kry, of as hulle regtig geestelike hulp nodig het. Dan is hulle dadelik op hulle pos om te help laste dra. Maar verder loop gebalanseerde gelowiges hulle pad met die Here reguit en opreg. Hulle is nooit bemoeisiek nie.

Jesus, help my om nie bemoeisiek te wees nie.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.