Boodskap vir Vandag

Search

Ander se hartseer is ook joune

Lees Nehemia 1:1-4.

By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur (v  4).

Nehemia was ’n skinker van koning Artasasta in die stad Susan. Hy was ver van sy mense af, maar toe hy hoor hoe swaar dit met hulle gaan in Jerusalem, was hy baie ontsteld – om dit sagkens te stel. Hy was só ontstig dat hy hom onttrek het en dae lank nie geëet het nie. Toe het hy begin bid en ernstig met God gepraat oor wat daar in Jerusalem aan die gebeur is. Eers het hy almal se sondes bely en homself sommer daarby ingesluit. Net soos Esra voor hom, het Nehemia nooit eenkant gestaan en neergekyk op almal wat verkeerd doen nie. Nee, hy was een met sy mense; een met almal wat gesondig: het; een met almal in nood.

Wat ’n merkwaardige gebed, dié van Nehemia. Hy kon daar in die vreemde, waar hy ’n toppos in die paleis van die koning beklee het, sy tong meewarig geklik en iets gesê het soos: “Siestog, dis sleg om te hoor hoe swaar dit in Jerusalem gaan. Sê vir hulle ons dink aan hulle!” Maar hy het verkies om op sy knieë neer te val en dae lank vir hulle te bid.

Medelye met ander mense beteken dat hulle seerkry ook joune word. Dat hulle laste op jou afgelaai word en dat dit daar bly totdat jy dit by God se hemelse deur gaan aflaai. Jy is nooit te ver van ander gelowiges af, of te vroom, of te besig, om jou met hulle te vereenselwig in hulle nood nie.

Maak my asseblief ’n draer van ander se seer, Here!

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.