Lees Filippense 2:4.
Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (v 4).
Ons dink meestal net aan onsself. Dit is ons basiese oorlewingstrategie – eerste onsself, tweede onsself, derde onsself … Daarom is dit nie maklik om aan ander voor onsself te dink nie. Hulle staan gewoonlik agter in die tou van ons lewe! Heel agter in ons lewensry is daar vir ander plek, maar nie voorlangs nie. Nee, dit is uitsluitlik en eksklusief vir onsself gereserveer.
Ook in die kerk vier selfsug hoogty. Baie Christene sukkel maar om hulle ou self gekruisig te kry. Daarom baklei baie gelowiges oor en weer oor beuselagtighede. Paulus hou niks daarvan nie, daarom roep hy ons op om op te hou om net aan onsself te dink. En hy help ons ook om dit reg te kry. Hoe? Wel, hy sê in vers 3 dat ons nooit ander hoër as onsself mag ag nie. Kortom, ons moet leer om altyd op te kyk na ander mense. Dan is ons op die regte koers.
Ons moet respek vir ander mense rondom ons hê deur hulle altyd as groter en belangriker as onsself te beskou. Dit maak nie saak wie of wat hulle is nie – ons moet ander behandel asof hulle die heel vernaamste mense in die heelal is. Dan sal ons vir hulle respek hê. En agting! Dan doen ons presies wat Christus gedoen het toe Hy op aarde was. Hy het alle mense op die hande gedra, sonder om te vra na hulle titel, status, afkoms of beroep. Hy het soveel respek vir mense dat Hy sy lewe vir ons almal afgelê het.
Christus, leer my om respek vir mense te hê.
Stephan Joubert