Lees 2 Samuel 1:17-27.
“Hoe het die helde geval? In die hitte van die stryd” (v 25).
Toe Dawid hoor dat sy groot vyand, Saul, dood is, het hy nie begin feesvier nie. Al wou Saul hom doodmaak, het hy getreur oor die nuus dat Saul en sy boesemvriend, Jonatan, dood is.
Gelowiges juig nie as hulle vyande omkom nie. Hulle vier nie fees as slegte dinge met slegte mense gebeur nie. Nee, hulle treur. Maar gelowiges treur ook wanneer hulle vriende en geliefdes swaar kry. Aan hierdie kant van die graf tref lyding ons almal die een of ander tyd. Wanneer dit met mense naby aan ons gebeur, huil ons saam met hulle. Om ander se laste te dra, is wat die Here van ons as Christene verwag. Ons moet altyd daar wees vir hulle. Hulle nood is ons nood.
Neem asseblief vandag ander se laste op jou eie skouers. Bid vir hulle. Gee om vir hulle. Droog hulle trane af. Wees daar vir hulle. Moenie eenkant staan en toekyk soos die meeste ander toeskouers van lyding doen nie. Nee, wees op jou pos. Laat mense altyd sien dat jy die liefde van die Here in jou lewe het!
Here, verander my in ander mense se naaste.
Stephan Joubert