Lees Joël 1:15.
Die vreeslike dag! Die dag van die Here is naby (v 15).
In Joël se leeftyd is die ramp wat deur die sprinkane veroorsaak is as straf van die Here beskou. In daardie tyd het die mense baie onder mekaar gepraat oor die komende dag van die Here, maar nou moes hulle begryp hierdie dag gaan ’n dag van oordeel en straf wees. God gaan binnekort op ’n kragtige manier in hulle lewe ingryp, maar dit gaan glad nie ’n goeie dag vir die ongehoorsame volk van God wees nie. Inteendeel, hulle moet niks goeds te wagte wees nie.
Die mense van Juda het letterlik alles verloor tydens die groot sprinkaanplaag. Nêrens is daar meer iets oor om te eet nie. Die graanskure is leeg; diere sterf van die honger. Al hierdie dinge wys heen na die volk se opstandigheid teen die Here. Daarom is daar net een oplossing: Israel moet hulle sonde voor die Here bely en breek met hulle verkeerde dade.
Dalk gaan dit op die oomblik moeilik met ons. Dan is dit tyd dat ons moet besin oor ons verhouding met God. Al kan ons nie ’n direkte lyn trek tussen ons swaarkry en God se straf nie, moet ons sorg dat ons nie ons hand uit God s’n laat glip nie. Wanneer die onweerswolke rondom ons saampak, moet ons onverskrokke bly glo in God. Dan moet ons gehoorsaam bly aan Hom.
Here, hou my lojaal aan U in alle omstandighede.
Stephan Joubert