Lees 1 Korintiërs 8:7.
Maar almal het nie hierdie kennis nie (v 7).
Paulus se uitgangspunt in 1 Korintiërs 8, waar die vraag is of dit reg is om vleis te eet wat aan afgode gewy is, is duidelik: Moenie ander gelowiges veroordeel wat anders as jy voel oor minder belangrike sake in die kerk nie. Ons het geen reg om mekaar te veroordeel oor sake wat die Woord van God as “randsake” beskou nie. Wanneer die essensie van die evangelie ter sprake is, mag ons geen kompromieë aangaan nie, maar oor die tipe dinge wat Paulus as minder belangrik beskou, mag ons mekaar nooit verdag maak of afskryf nie. Dan tree ons nie in liefde op nie.
Neem ander gelowiges se sienings altyd in ag. Moet hulle nie aanstoot gee deur jou gedrag nie. Al voel jy dat ’n bepaalde saak waaroor jy en sommige ander Christene verskil (soos die eet van afgodsvleis) reg is en hulle meen weer dit is verkeerd, moet jy nie aanstoot gee deur dit in hulle teenwoordigheid te doen nie. Wees altyd die minste. Staan terug. Moenie ander Christene laat struikel in hulle geloof oor minder belangrike aangeleenthede in die koninkryk nie. Paulus self het nie ’n probleem gehad om enige soort kos te eet nie (Rom 14:14), maar hy was nie bereid om gelowiges te laat struikel wat anders oor die eet van afgodsvleis gedink het nie. Bou ander mense se geloof op. Moenie oor beuselagtighede stry nie.
Here, moenie dat minder belangrike sake u kerk skeur nie. Laat ons in liefde teenoor mekaar optree.
Stephan Joubert