Lees 2 Korintiërs 1:4.
In elke moeilikheid bemoedig Hy ons (v 4).
In 2 Korintiërs 1 vertel Paulus van die swaarkry wat hom te beurt geval het terwyl hy in Klein-Asië was. Waarskynlik verwys hy na die ontberings en lyding wat hy in Efese moes deurmaak terwyl hy die evangelie daar verkondig het. Maar swaarkry het Paulus nooit ondergekry nie. Hy sê dat God geloof moet word, want Hy is die Vader van ontferming wat in elke omstandigheid ’n ontvlugtingsroete aan al sy dienaars bied. Daar is geen situasie te donker vir God om ’n lig te kom aanskakel nie. God help in elke moeilikheid.
Dit beteken nie dat die swaarkry meteens verdwyn nie. Nee, Paulus vertel dat hy in ’n stadium so swaar gekry het dat hy alle hoop om te bly leef, laat vaar het. Toe het God wat dooies red, ingegryp en sy lewe gespaar. Daarom weet hy dat God dit in die toekoms weer en weer sal doen.
Paulus het nog ’n stukkie goeie nuus vir sy gemeentes, ook vir my en vir jou: In daardie moeilike omstandighede het God hom vertroos. Dieselfde bemoediging waarmee God hom bemoedig het, word nou die medisyne waarmee hy ons kan aanmoedig om te volhard. Kom haal jou geestelike medisyne uit die Woord. Laat toe dat die Goddelike salf jou wonde genees.
Vader, bemoedig ons in alle swaarkry.
Stephan Joubert