Lees Deuteronomium 19:14.
“Jy mag nie jou buurman se grenslyne verskuif nie” (v 14).
Christenskap is nie om jou aan die wêreld te onttrek en ’n soort “ek is vromer as julle” houding te hê nie. Jy kan al jou dae hier op aarde omsit en sondes vermy, maar dis veels te min. Die Here is aan die beweeg. Jy tref Hom aan tussen mense, nie doer eenkant tussen die “vromes” nie. Geen wonder nie dat Jesus in Matteus 11 gesê het mense dink Hy is ’n vraat en ’n wynsuiper. Jesus was en is ’n mens vir mense en ’n mens tussen mense! Is jy ook só?
Vergeet van vroom godsdienstige praatjies. Gee liewers kos aan dakloses. Bid vir ’n eensame. Besoek ’n sieke. Wees vir ’n moedelose ’n skouer om op te huil. Bel ’n goeie vriendin wat tans baie swaar kry. Bemoedig ’n kollega wat nie bevordering gekry het nie. Glimlag beleef vir ’n ander motoris en gee hom of haar ’n gaping in die verkeer. Bid vir die mense saam met jou in die hysbak. Doen die regte dinge. Doen God se soort dinge. Gee om, veral ook vir jou buurman. Wat help dit jy wil die wêreld vir die Here wen, maar jy en jou buurman leef steeds as vreemdelinge langs mekaar, of dalk selfs in vyandskap?
Sorg dat jy sulke verhoudings koester. Moenie mense naby aan jou benadeel deur skelmstreke of liefdelose optrede nie. Wees lief vir die mense met wie jou pad elke dag kruis. Dan gebeur jou geloof elke dag!
Here, skenk aan my ’n hart vir mense naby aan my.
Stephan Joubert