Lees Matteus 11:25-30.
“Neem my juk op julle en leer van My” (v 29).
Party rugbyspelers het sulke breë skouers dat dit lyk of hulle enigiets kan pap skrum. Wel, kom ek vertel jou van die Een met die breedste skouers op aarde: Jesus Christus! So sterk is Hy dat Hy al jou probleme kan optel en dit eiehandig kan dra. Ja, en sommer ook nog die res van die wêreld s’n. Op Jesus se skouers is daar altyd plek vir al jou laste. Hy kan elke probleem, elke stukkie seerkry, alle bekommernisse vir jou dra.
Is jou skouers al krom gedra aan al jou krisisse? Is die lewenspad vandag vir jou veels te steil? Kan jy nie meer een voet voor die ander sit nie? Wel, hou dan nou dadelik op om self die bult te probeer uitklim. Gee jou hele lewe vir Christus. Nee, ruil jou swaar las in vir sy ligte las. Want Jesus wil graag ook iets op jou skouers sit in ruil vir al jou probleme. Hy wil sy hemelse vrede en sy rus op jou aflaai.
Sjoe, wat ’n ruiltransaksie! Jesus se eie vrede in ruil vir jou probleme. Sy rus vir jou onrus en jou hartseer. Dit klink vir my na die kans van ’n leeftyd! Dit klink na net die regte ding om vandag te doen met jou swaarkry en geestelike moegheid. Wil jy nie hierdie kans met albei hande aangryp nie? Wil jy nie nou dadelik al jou probleme aan Jesus se voete kom neersit nie? Dan kan jy van vandag af gelukkig en getroos verder gaan leef. Dan kan jy met Jesus se ligte bondeltjie op jou skouers ligvoets deur die lewe gaan.
Here Jesus, ek sit my sware las aan u voete neer.
Stephan Joubert