Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vergifnis hou net aan en aan en aan en aan . . .

Lees Matteus 18:21-22.

“Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe …?” (v 21).

“Slaan eerste terug!” So sê iemand nou die dag. Want weerwraak is mos die in-ding sedert die tragiese gebeure doer in die VSA op 11 September 2001. Almal skree deesdae om wraak en bloed. Ja, wraak is so eie aan die mensdom. Ons soek graag ander se bloed in ruil vir ons eie. Mense is altyd op soek na maksimum pyn vir al daardie pynveroorsakers om hulle te probeer terugkry vir wat hulle gedoen het.

Hoe moeilik is Jesus se woorde nie wanneer Hy sê sy volgelinge speel nie hierdie soort speletjies nie. Gelowiges vergewe – elke keer, altyd, oral! Die spiraal van haat word telkens deurbreek binne die koninkryk van God. Hier word ’n nuwe spiraal tot stand gebring, ’n spiraal van vergifnis, hoop en liefde. En dit is geen grap nie. Dit is regtig nie maklik om hierdie nuwe spiraal te bou nie. Ver­al nie as jou familie of vriende dalk slagoffers van ’n sinlose moord of diefstal was nie.

Die groot uitdaging vir die Here se mense in hierdie deurmekaar tye waarin ons leef, is om haat tweede te laat kom. Die kerk se mense moet propvol vergifnis wees. So sê Jesus. Sy volgelinge praat altyd die taal van vergifnis. Nee, hulle doen dit ook elke dag. Al kos dit wat! Daarom bou hulle om elke hoek en draai nuwe spirale van hoop waarbinne weerwraak geen plek meer het nie.

Leef vandag vergifnis! Gaan wees iemand wat vergifnis uitdeel.

Jesus, leer my om soos U te vergewe.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.