Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Doen goed aan ander, doen goed aan Christus

Lees Matteus 25:31-40.

“Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee” ( v 36).

Partykeer herken ’n mens Jesus nie so maklik nie. Maar as jy mooi kyk, dan lê sy voetspore oral rondom jou. Jy sien Hom in daardie kindjie wat nie klere het om aan te trek nie. Of in daardie weerlose oue van dae wat nie eens ’n stukkie brood meer oor het op die tafel nie. Jy sien Jesus in die eensames, die hulpeloses, die wesies, die lydendes. Ja, Hy is vandag nog die hele wêreld vol.

Moenie verwag om Jesus net in die kerk raak te loop nie. Ja, Hy is daar ook. Oral waar sy Woord gebring word en waar twee of drie in sy Naam vergader, is Hy aanwesig. Maar Jesus bly nie in die kerk agter as almal huis toe gaan nie. Nee, Hy gaan stap graag tussen die stukkendes, die sondaars, die hopeloses.

Jy moet oplet waar Jesus vandag aan die werk is. Dan moet jy daar gaan brood breek. Of ’n warm kledingstuk loop uitdeel. Of ’n stukkie brood aflaai. Of ’n gebed doen, ’n handdruk uitdeel, ’n vriendelike glimlag versprei. Jy kan nie net in jou veilige kokon toegewikkel sit en die wêreld op ’n afstand bejammer nie. Jy kan nie net ’n vinnige geldbydrae lewer en die naamlose, gesiglose massas van ver af probeer help nie. Nee, Jesus se mense is altyd naby aan dié wat ly. Hulle werk in die loopgrawe van die lewe. Gaan trek vandag jou werksklere aan en begin ander se laste te dra. Jesus sal jou eendag hiervoor beloon. Want jy doen goed aan Hom as jy omgee vir mense wat ly.

Jesus, help my om U in die nood van ander te herken.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.