Lees Markus 7:24-30.
“Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet” (v 28).
Het jy dit al gewaag om iets groots van die Here te vra, selfs toe dit vir jou gevoel het of die hemel bokant jou kop toegesluit is? Wel, dan sal jy verstaan hoeveel moed dit hierdie Siro-Fenisiese vrou gekos het om in Jesus se pad te kom staan. Haar dogtertjie was in die mag van ’n slegte gees. Sy moes eenvoudig by Jesus hulp kry, maar Hy wou haar aanvanklik nie help nie. Hy het gesê sy steel eintlik die kos van die Israeliete uit hulle monde. Sy moet weet dat sy eintlik onrein is. Sy is ’n heidin, ’n hondjie! Maar hierdie vrou was gereed met ’n antwoord. Sy het Jesus daaraan herinner dat die hondjies graag onder die tafel die krummels eet wat van die kinders se borde af val. Jesus was beïndruk deur hierdie vrou se groot geloof. Hy het haar gebedsversoek vervul en haar kind genees.
Jesus laat toe dat mense Hom in ’n hoek in bid. Hy wil hê mense moet volhardend voor Hom bly staan met die nood van ander op hulle skouers. Hy wil hê dat ons nie “nee” vir ’n antwoord moet aanvaar nie. Jesus sê graag “ja”, al moet ons ’n rukkie, of selfs jare lank, aan sy hemelse deur bly klop. Nooit laat Hy iemand met leë hande wegstap wat opreg en volgens sy wil by Hom pleit nie. Dit geld ook vir jou!
Here Jesus, hoor tog as ek by u hemelse deur aanklop!
Stephan Joubert