Lees Markus 9:33-37.
“As iemand die eerste wil wees, moet hy heel laaste en almal se dienaar wees” (v 35).
Wanneer laas was jy dankbaar oor wat jy is en wat jy het? Ons bely so graag dat dit met ons goed gaan as ander vra hoe dit met ons gesteld is. Maar is dit regtig die waarheid? Is ons nie ook maar slagoffers van hierdie gejaagde lewe en die wen-is-alles-sindroom nie?
Dit hoef nie so te wees nie. In die Here se oë is ons wenners as ons op sy voorwaardes en teen sy spoed leef. Dan maak dit nie saak op watter plek ons in die ry van die lewe staan nie. Ons identiteit, ons menswees en ons geluk is nie van ’n eerste plek afhanklik nie. Om vrede met God en met onsself te hê, is die grootste vreugde wat daar in die lewe te vinde is. Jaag daardie soort vrede na, nie die wêreld s’n nie!
Jesus se soort vreugde is te vinde wanneer ons ander mense dien. Want dit is presies wat Hy kom doen het. Hy was bereid om sy lewe vir ons op te offer. Daarom vra Hy dat ons in sy voetspore volg deur in die agterste ry van die lewe in te val. Daar hou Jesus vir ons plek, want juis daar is Hy op dié oomblik besig om stukkende mense te dien en hulle wonde te verbind.
Christus, maak my asseblief ’n dienskneg vir ander.
Stephan Joubert