Lees Markus 12:28-34.
“Jy moet die Here jou God liefhê” (v 30).
Godsdiens bestaan uit baie fasette. Daar is baie dinge wat ’n mens moet weet, glo, verstaan en doen. Godsdiens het baie reëls wat gehoorsaam moet word, uiteenlopende voorskrifte wat nagekom moet word, verskillende gebede wat gebid moet word en allerhande offers wat gebring moet word. Kan ’n mens dan ooit een saak uitsonder wat die hart van godsdiens vorm?
Ja, Jesus sê dat godsdiens op die ou end net handel oor een saak: die liefde! “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.” Hier en hier alleen klop ware godsdiens se hart. Al dien jy in die kerkraad, en al ken jy die hele Bybel uit jou kop uit – as jy nie liefhet nie, dan mis jy die punt! Al bid jy van vroeg tot laat, sonder die liefde maak jy net ’n groot geraas. Liefde verander jou in ’n dienaar van God. Liefde maak jou oë ook oop vir ander.
Saam met liefde vir God loop liefde vir jou naaste. “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Ander mense se nood en laste moet voorkeur kry in jou lewe. So nie, is jy nog lank nie met ware godsdiens besig nie. Dan mors jy jou tyd met al jou vroomheid.
Laat u krag vandag deur my lewe vloei, Here.
Stephan Joubert