Lees Markus 12:41-44.
“Maar sy het uit haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het” (v 44).
Die arm weduwee het niks op haar naam gehad nie, net ’n skamele paar sente. Toe gooi sy dié ook nog by die tempel se skatkis in. Die ander mense se geld het met ’n groot geklingel in die skatkis beland. Haar laaste sente het egter nie eens ’n geluid gemaak nie, so min was dit. Net Jesus het gesien hoe hierdie vroutjie alles wat sy het vir die Here weggegee het. Wat ’n ongelooflike offer! Toe sy moes kies tussen broodgeld en offergeld, het sy op laasgenoemde besluit. Sy het vas geglo dat die Here op die een of ander manier sou voorsien.
Jesus het dadelik vir sy dissipels vertel dat die hemele daardie dag kennis geneem het van die weduwee se bydrae; ja, dat sy op daardie dag tot ’n geestelike miljoenêr gekroon is. Praat van ’n klein daad wat ’n groot reaksie tot gevolg gehad het!
God weet presies wat in jou lewe aangaan. Hy weet van elke keer dat jy iets aan sy diens afstaan. Maar Hy weet ook van daardie kere dat jy te suinig of selfsugtig is. Hy weet as jy by Hom steel. Moenie! Gee weg. Word ’n hemelse miljoenêr.
Maak my altyd vrygewig, Heer!
Stephan Joubert