Lees Markus 16:9-11.
Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn (v 9).
Vroue was die eerste getuies van Jesus se opstanding. Vra maar vir Maria Magdalena wat van Galilea af agter Jesus aangestap het. Sy het vreesloos aan Jesus vasgehou. Haar hart was vol blydskap toe sy Hom daardie Sondagmôre weer raakloop. Dadelik het sy hierdie goeie nuus met die ander volgelinge van die Here gaan deel, maar hulle het haar nie geglo nie. Bid jou dit aan! Die mense wat die heel naaste aan Jesus is, het begin twyfel. Al het hulle vroeër met hulle eie oë die grootste wonders in menseheugenis gesien, kon hulle nie nou glo dat Jesus dwarsdeur die dood kon stap, lewend anderkant uit nie. Dit was vir die bang dissipels een te veel!
Twyfel tref soms ook diegene wat baie naby aan Jesus loop. Vra maar vir die dissipels. Gelukkig skryf Jesus sulke twyfelaars nie af nie. Hy keer nie in sulke tye die rug op hulle nie.
Nee, Hy laat juis van sy ander kinders na hulle toe gaan met die trooswoorde: Jesus het uit die dood opgestaan. Hy leef!
Moenie moed opgee in donker dae nie. Onthou altyd: Jesus los jou nooit alleen nie! Hy hou jou elke tree van die pad veilig in sy hand.
Christus, laat my twyfel vandag oorgaan in vertroue.
Stephan Joubert