Boodskap vir Vandag

Search

Volg Jesus sonder voorwaardes

Lees Lukas 5:27-39.

Volg My” (v 27).

Die blote feit dat jou pa en ma aan ’n kerk behoort, of die feit dat jou naam iewers op ’n gemeente se amptelike boeke staan, verander jou nog nie outomaties in een van Jesus se volgelinge nie. Al sit jy ook elke Sondag jou kerk se banke warm, en al gee jy gereeld ’n ruim bydrae vir die kerk, kwalifiseer jy nog nie vir lidmaatskap in Jesus se dissipelgroep nie.

Nee, om hiervoor te kwalifiseer, moet jy elke dag met jou lewe agter Christus aankom. Jy moet Hom elke dag onvoorwaardelik volg. Dan is jy regtig eers deel van sy dissipelgroep. Vra maar vir Levi, die tollenaar. Om agter Jesus aan te kom, moet jy alles laat staan wat nog in die pad staan! Jou planne, jou drome, jou besigheid, jou studies, ja, alles in jou lewe, moet die toets van onvoorwaardelike lojaliteit aan Jesus deurstaan. Anders is al daardie dinge net in die pad, hoe lofwaardig hulle ook al mag wees!

Eers wanneer jy met jou hele lewe antwoord op Jesus se roepstem en Hom sonder voorwaardes volg, is jy besig om in die regte rigting vordering te maak. Dan reën dit elke dag seën oor jou omdat jy deel van Jesus se egte navolgers is. Wat ’n voorreg om deel van hierdie spesiale taakmag van Jesus te mag wees. Wat ’n geleentheid om elke dag sy Naam te mag hoog hou; dit net omdat jy ook bereid is om alles op die altaar te plaas vir Hom. Hou aan op hierdie pad: Volhard!

Christus, maak my vandag ’n dissipel van U.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.