Lees Lukas 6:27-36.
“Julle moet julle vyande liefhê” (v 27).
Godsdiens durf nie in lewensvreemde houers verpak en op uitgediende maniere oor en oor gesirkuleer te word nie. Mense kom gou agter dat die vervaldatum op so ’n tipe godsdiens verstryk het. Die rakleeftyd van so ’n starre godsdiens is lankal verby. ’n Geloof wat egter op opwindende maniere vertel van Christus wat gekom het om mense vry te maak en nuwe lewe te gee, bied die regte sleutel. Die verskil wat hierdie boodskap maak, moet altyd sigbaar wees op voetsoolvlak. Dit moet gesien en gevoel word in elkeen se lewe. Ons wat glo, moet bruis met lewensveranderende liefde vir God en vir ander.
Die hart van die Christelike lewe is die liefde, want liefde is die wese van God. Hy verpersoonlik liefde. Sonder liefde vir Hom en vir ander is ons geloof ’n groot klug. Ja, so sterk moet ons liefde vir ander wees dat ons gedurig ook goeie dinge doen, selfs vir diegene met wie ons glad nie oor die weg kom nie.
Hoe het ’n mens jou vyande lief? Wel, jy draai die ander wang wanneer hulle jou beledig. Jy leen dinge aan hulle sonder om iets terug te verwag. Jy doen goed aan mense wat nooit daarvoor dankie sê nie. Hoekom? Omdat dit die regte ding is om te doen in God se oë. Hy sal jou hiervoor beloon. Hy sal vir jou goed wees omdat jy so goed is vir ander mense, selfs al is hulle jou vyande.
Jesus, dankie dat U my leer om lief te wees vir ander.
Stephan Joubert