Boodskap vir Vandag

Search

Laat ander se laste op jou skouers ’n plekkie kry

Lees Lukas 10:25-37.

“Gaan maak jy ook so” (v  37).

Dit is geen grap om te sê jy is ’n gelowige nie. Vra maar vir daardie wetgeleerde wat gedink het dit is maklik om God se wet te onderhou. Hy het die verrassing van sy lewe gekry toe Jesus vir hom die verhaal van die barmhartige Samaritaan vertel. Skielik was dit nie meer speletjies nie. Sy naaste was hier teenaan hom, in sy gesig! Toe was die gelowige die mens wat opregte medelye aan iemand bewys sonder om vooraf te vra wat daardie persoon se geloof, ras, geslag of sosiale stand is. Naasteliefde is kleurblind en statusblind. Dit vra nie vooraf watter voordeel dit vir my inhou om goed te doen aan iemand anders nie. Nee, dit vra my om betrokke te raak, maak nie saak wie of wat die persoon is wat voor my staan nie.

Jesus draai nie doekies om as Hy ons oproep tot navolging nie. Hy waarsku ons dat dit ’n baie gewigtige besluit is omdat dissipelskap van ons vra om elke oomblik gereed te staan om ander met ons woorde en dade, ons geld en ons tyd te dien. Het jy al die prys bereken? Wat kos dit jou om te sê jy volg in Jesus Christus se voetspore? Wat het jy alles weggegee en opgeoffer ter wille van die saak van Jesus? Hoeveel mense het jy al op die hande gedra? Of leef jy steeds in ’n lekker geriefsone: Sondag doen jy godsdiens, en gedurende die week doen jy jou eie ding? Wel, dit durf regtig nie so aangaan nie. Maak vandag opnuut die regte keuse! Dien ander!

Lei my om ander mense te dien, Here Jesus.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.