Lees Lukas 15:1-10.
“Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was weer gekry” (v 6).
Wanneer ’n mens iets kosbaars verloor, soek jy agter elke stoel, in elke kas, op elke moontlike plek na daardie kosbare item. God kan dit nie verdra dat van sy kosbare muntstukke, ek en jy, wegraak nie. Daarom soek Hy soos die vrou in Jesus se gelykenis, totdat Hy ons kry. Daarna vier Hy fees.
Wanneer een van die skape wegraak uit die hemelse kudde, veroorsaak dit groot konsternasie. Dan los die Goeie Herder alles waarmee Hy besig is om te gaan soek na die verlore skaap. Die goeie nuus is dat Jesus ’n ongelooflik goeie spoorsnyer is. Wanneer Hy jou spoor het, kan jy vlug, maar nie wegvlug nie. Dan kan jy hardloop, maar nooit wegkom nie. Jesus loop tot in die diepste gemors waar jy jou bevind en kom haal jou. Hy kry elkeen van sy kudde wat verlore geraak het, al neem dit baie jare. Jesus soek altyd om te vind. En as Hy jou kry, dryf Hy jou nie met ’n rottang terug na die kudde toe nie. Nee, Hy tel jou op sy skouers en dra jou met deernis terug na sy Vader se ander skape toe.
Hou op met jou weghardlopery. Dit help in elk geval nie. Die een of ander tyd spoor God se Seun jou tog op. Spaar jou dus al die moeite en bly vandag naby aan Hom. Laat Hy jou langs groen weivelde lei.
Hou my vandag naby U, Here.
Stephan Joubert