Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Vergeet van tekens; luister na wat die Bybel sê

Lees Lukas 16:19-31.

“As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand uit die dood opstaan” (v 31).

In hierdie bekende gelykenis van die ryk man en Lasarus (die enigste gelykenis van Jesus waarin iemand by die naam genoem word) leer ons ’n klompie wonderlike lesse. Een minder opvallende les spruit voort uit die gesprek tussen die ryk man en Abraham wanneer hy ná sy dood in die doderyk is waar hy smarte ly. Hierdie man vra vir Abraham om vir Lasarus uit die doderyk na sy vyf broers op aarde te stuur om hulle te waarsku om tot inkeer te kom. Abraham weier egter en sê dat sy aardse broers die wet en die profete, oftewel die Bybel het. Hulle moet maar net glo wat daarin staan. Dan pleit die ryk man nog ’n slag en noem dat die verskyning van iemand van anderkant die dood hulle wel tot nuwe insigte sal bring. Hierop sê Abraham nogeens dat as hulle nie bereid is om na God se Woord te luister nie, niks anders hulle sal oortuig nie.

Vandag luister mense graag na stemme van anderkant die graf. Televisieprogramme waar die dooies met mense aan hierdie kant praat, is baie gewild. Wanneer die een of ander afgestorwene ’n boodskap deur ’n medium oordra, sit almal regop, maar nie as God se Woord aan die woord is nie. Tragies, maar waar. Tog is daar net een regte medisyne – God se eie stem. Luister as Hy praat. Vergeet van boodskappe van anderkant die dood. Die Woord sê dit gaan mense nie oortuig nie. Luister na die waarheid in God se Woord.

Laat my na u Woord luister, Here.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.