Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dankbaar, of meer as dit?

Lees Lukas 17:11-19.

“Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?” (v 18).

Tien melaatses word genees deur Jesus. Nege kom sê nie dankie nie, maar een doen dit wel. Wat ’n ondankbare nege! Ja en nee! Ja, hulle is ondankbaar, maar nee, dit gaan hier om meer as ondankbaarheid. In die Bybelse tyd was die heersende waardestelsel dat ’n mens nie heeltyd dankie sê nie. Wanneer jy wel vir iemand dankie sê, is dit ’n aanduiding dat die verhouding tussen julle tot ’n einde kom, of dat daardie persoon verskriklik belangrik is. ’n Mens sê dus net vir mense dankie met wie jy nie in ’n verhouding staan nie, of vir mense soos konings of priesters, omdat hulle verskriklik belangrik is.

Wanneer die nege melaatses nie vir Jesus dankie sê nie, maak hulle dit duidelik dat hulle Hom as ’n doodgewone geneser beskou, een wat hulle dalk weer as dokter nodig mag hê. Die man wat wel vir Jesus dankie sê, gee aan God die eer! Let wel, hierdie man besef dat Hy in die teenwoordigheid van God is. Jesus vra vir hom hoekom die ander nege nie aan God die eer gegee het nie. In hierdie verhaal gaan dit dus nie in die eerste plek oor dankbaarheid nie, maar of jy vir Jesus as God beskou.

Leer vandag om oor en oor vir God dankie te sê vir alles wat Hy doen. Ondankbaarheid teenoor Hom kan dalk net die boodskap sein dat jy, soos die nege melaatses, Hom nie genoeg ag nie.

Here, dankie, dankie, dankie!

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.