Lees Lukas 22:14-30.
“Die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien” ( v 26).
Leierskap is die towerwoord in ons dag. Elke dominee of pastoor het tien nuwe boeke oor hierdie tema, om nie eens van sakemense te praat nie. Almal praat, dink, skryf en filosofeer oor leierskap, oor hoe dit lyk en moet lyk. Wie is leiers en wat doen hulle? Hierdie soort vrae boei baie mense in die kerk. Wel, Jesus se antwoord is eenvoudig: Hulle is mense wat dien. Ja, diensknegte. Hoe is dit moontlik? Diensknegte is dan die onbelangrikste mense in enige situasie. Hulle staan agter in die ry! Ja, reg! Hulle staan agter. Presies! Dit is waar Jesus ook vir kerkleiers plek hou. Nee, die regte plek vir kerkleiers is toe nie daar voor in die tou nie, maar hier agter.
Wie is kerkleiers? Net die betiteldes? Net dominees en pastore? Natuurlik nie. Elkeen wat iemand anders met visie inspireer en wat bydra om God se koninkryk uit te bou, is ’n leier. Leiers is droomverkopers, nee, meer as dit, hulle is droomwaarmakers! Hulle inspireer ander tot groot hoogtes! Dit doen hulle van agter in die ry. Nie van voor af nie. Nee, leiers, Jesus se soort leiers, is diensknegte wat die soeklig op ander laat val en hulle op die hande dra. Leiers inspireer, tel op en bou op. Hulle bemoedig, versterk, vermaan … Leiers is die Here se diensknegspan, sy 24/7-werkers wat omgee en werk. Nooit soek hulle eer of erkenning nie. Die Here se leiers gee die eer aan Hom; hulle laat ander wen.
Here Jesus, maak my een van u leiers.
Stephan Joubert