Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Waarheen, behalwe na U toe?

Lees Johannes 6:66-71.

“Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee” (v 68).

Elke keer as ek Johannes se Evangelie lees, kry ek koue rillings, veral wanneer ek Petrus vir Jesus hoor sê dat Hy die ewige lewe op sy lippe het. Ja, Jesus se taal is lewe. Sy woorde is kragtig, lewensveranderend, skeppend, lewegewend, asemrowend, oorweldigend en boonop nog mooi ook! Toe baie van Jesus se sogenaamde volgelinge besluit het dit is te swaar om sy liggaam te “eet” en sy bloed te “drink”, het hulle die pad gevat en die rug op Hom gekeer. Dadelik het Jesus vir sy twaalf dissipels gevra of hulle nie ook maar wil padgee nie. Jesus was nie bereid om passasiers in sy groep te hê nie. Dit is óf alles óf niks op sy pad. Petrus was dadelik gereed met die regte antwoord: “Here, ons kan nie weggaan nie. Waarheen sal ons in elk geval gaan, want niemand anders gee lewe nie. U het die alleenreg op die ewige lewe!”

Sjoe, aangrypend! Voel jy ook só oor Jesus? Wat sal jy alles opoffer om agter Hom aan te stap? Wat kos jou dissipelskap jou? Kan jy met jou hele lewe agter Petrus aan sê dat jy nooit, maar nooit, vir Jesus kan verlaat nie? Hy alleen spreek lewende woorde oor jou lewe uit. Daarom mag jy nie van sy pad afdwaal nie. Daarom kan jy nooit sy magtige hand los nie. Verstaan jy regtig wat Petrus hier bely? Lees dit weer en weer totdat die Here hierdie woorde diep in jou hart inbrand en totdat jy dit met jou lewe agterna sê.

Christus, U alleen spreek woorde wat lewe gee.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.