Lees Johannes 15:1-8.
“Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte” (v 5).
Wil jy nie ’n paar oomblikke alles waarmee jy besig is eenkant sit nie? Beantwoord die volgende paar vrae eerlik:
- Het jy ’n obsessie om altyd die beste te wees, ten koste van ander mense?
- Is jy opreg bly wanneer vriende, familie en kennisse suksesvol is, ook wanneer hulle meer bereik as jy self?
- Verdraai jy soms die waarheid om jouself beter te laat lyk in die oë van ander?
- Wil jy gedurig reg wees en in beheer van sake staan?
As jy jouself eerlik in die Here se spieël beloer, sien jy dalk ’n onaangename prentjie. Ek moet erken, ek het ook! Na al die jare op die Here se geloofsroete moes ek self al veel verder gevorder het as waar ek tans is. Ek praat voordat ek dink; ek dra te min laste van ander op my skouers; ek stel mense teleur …
Die oplossing vir ons almal? Daar is net een manier: Ons moet in Jesus bly. Hy moet die wingerdstok wees en ons die lote, nooit andersom nie. Alle krag en lewe moet van Hom af kom. Ons moet in Hom bly deur na sy woorde te luister, deur dit diep in ons hart weg te bêre en as die kompas vir ons gedagtes, woorde en dade te gebruik. Dan alleen is daar groeipotensiaal in ons lewe. Dan groei ons Godwaarts, Lewewaarts!
Christus, snoei my sodat ek meer vrug kan dra.
Stephan Joubert