Lees Johannes 20:26-31.
En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!” (v 28).
Tomas, daardie dissipel wat so bekend is vir sy twyfel, is eintlik nader aan ons as wat ons dink. Ja, dis mos hy wat nie daar was op die eerste Sondagaand toe Jesus aan sy dissipels verskyn het nie. Daarom dat Tomas toe nie gevoel het hoe Jesus se asem op hulle blaas en hulle met nuwe krag toerus nie. Ook nie hoe Jesus sy hande in die lug gehou en vir die dissipels gesê het: “Vrede vir julle!” nie. Wat ’n jammerte dat hierdie twyfelende dissipel afwesig was toe Jesus so genadig en goed was vir sy dissipels.
Die goeie nuus is egter dat Jesus nie van Tomas vergeet het nie. Daarom verskyn Hy agt dae later by ’n volgende byeenkoms waar twyfelende Tomas ook op die toneel is. Dis hier dat Tomas die kans van ’n leeftyd gegun word om sy hande in Jesus se spykermerke te druk. Ongelooflik om te dink dat Jesus daardie dag spesiaal gekom het om genade aan Tomas te bewys, om hom terug te bring na waar hy hoort, tussen die ander dissipels.
Tomas se oë het onmiddellik oopgegaan. Sy twyfel het soos mis voor die son verdwyn. Daar en dan was die regte woorde op sy lippe: “My Here en my God!” Dit was die taal van iemand wat tuisgekom het. En dis steeds die taal van die Here se nuwe volgelinge wat vandag nog voor Hom buig as hulle Hom ontmoet. Jesus is immers steeds die Here wat twyfelaars opsoek en hulle oë oopmaak.
Ek loof U, Jesus, dat U steeds mense se oë open.
Stephan Joubert