Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

So maak die Herder met my

Lees Psalm 23.

Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam (v 3).

Ons kan nie anders as om nog ’n slag by Psalm 23 stil te staan nie. Ons moet nog ’n paar dinge oor die Here se herderswerk leer. Die belangrikste taak van ’n herder is om net die beste weiding vir sy skape te vind. Die Here doen dit ook. Let wel, dit is sy taak om te besluit waar die groenste weivelde in jou lewe is, nie joune nie. Hou dus op om self te besluit wat die beste is vir jou. Jy het ’n Herder wat veel beter weet as jy. Hy is op hierdie einste oomblik op pad na groen weivelde toe met jou – as jy nie lankal reeds daar is nie!

Die goeie Herder weet waar rustige waters is. Hy sal jou keer op keer om gevaarlike stroomversnellings heen lei na stil water toe. Sy enigste begeerte is dat jy die beste lewende water sal kry, water wat jou dors vir altyd les. Daarom lei Hy jou elke dag na Jesus toe, want Hy is die Lewende Water. Hy stil jou dors elke keer, vir altyd (Joh 6).

Die Here sorg ook dat jy rus kry ná elke dag se moeisame reis op soek na goeie weiding. Hy ken gelukkig geen afdwaalpaaie nie. Nee, by Hom is daar net regte paaie. Jou taak is nie om self die pad te probeer vind nie, maar om jou Herder elke keer reguit soontoe te volg. Jy moet maar net jou klein voetspore in Syne sit wat reg voor jou lê. Dit is al.

Here, wees vandag die enigste Herder in my lewe.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.