Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Sien die Lig

Lees Psalm 27.

Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? ( v 1)

Party mense is so negatief dat hulle sommer dadelik na ’n doodskis soek as hulle blomme sien. Ander is so swartgallig dat hulle elke keer die doodsberigte begin lees as hulle ’n koerant optel. En dan is daar die alewige bekommernis-brigade; hulle eet, leef, slaap, praat en droom net bekommernis. Hulle bekommer hulle morsdood oor hulle familie, hulle werk, die land se ekonomie, sport, die toekoms … Sodra jy iets positiefs in hulle teenwoordigheid sê, sal hulle jou dadelik met die jongste galbitter, pikswart nuus reghelp. “Ja, maar het jy gehoor hoe sleg dit nou eintlik gaan …?”

Gelukkig is die Here se mense nie deel van die bekommernis-brigade nie. Bekommernis pas nie by ons nie. Hoekom nie? Omdat die Here sê Hy is ons enigste lig en redder. Hy hou niks daarvan as ons gedurig bekommerd is nie. Dit is ’n mosie van wantroue in Hom. Dit trek ’n streep deur sy versorging.

Jy het een van twee keuses: Óf jy neem God ernstig op as Hy sê dat Hy vir jou sal sorg, óf jy probeer vir jouself sorg. Die Here waarborg Hy sal vir ons sorg as ons Hom vertrou. Hy wat gister en eergister vir ons daar was, sal môre en oormôre ook op sy pos wees met genoeg kos en klere en elke dag se geestelike brood! Hy is ons vesting in goeie dae en in donker tye. Ons is nooit alleen nie. Die Here se lig skyn elke dag in ons lewe, selfs al sien ons dit nie aldag raak nie.

Dankie dat U die enigste lig is, Here; daar is geen ander nie.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.