Lees Psalm 57.
Ek is hier tussen leeus, tussen mense wat my wil verskeur (v 5).
Ongelukkig het die lewe ons nie voorberei op mislukkings nie. Ek sê “ongelukkig”, want mislukking is ’n normale deel van ons daaglikse bestaan, soos die skrywer van Psalm 57 ook ervaar as hy tussen vyandige mense verkeer. Almal misluk, faal, struikel, slaan neer, en beland met hulle gesigte in die modder. Middelmatigheid en verlore kanse is dikwels ons bondgenote.
Net soos die roete na sukses ’n lewenslange reis is, net so is die pad wat ons as mislukking definieer ook maar ’n reis. Gewoonlik is groot mislukkings vir baie mense die einde van hulle reis. Dan gee hulle boedel oor. Dit is nie nodig nie. Alles hang daarvan af hoe ’n mens mislukkings hanteer.
Miskien loop ek die pad vooruit. Dalk moet ons eers vir mekaar sê wat is sukses. In geloofsterme is sukses wanneer ek voluit op God se pad loop. Mislukking is wanneer ek die pad byster raak, verdwaal, koers verloor, droogmaak, faal! Hoe dan gemaak as ek meer kere misluk as sukses behaal? Dit hang alles af van hoe ’n mens dit beskou. Of liewer, hoe God ons mislukkings beskou! In ’n neutedop: Hy spesialiseer in oorbegin en opnuut begin. Hy hurk graag langs gevallenes. Hy kom haal ons graag uit die bekke van kwaai leeus wat dikwels die oorsaak van ons mislukkings is!
Here, gee tog dat gevaarlike mense my nie sal verskeur nie.
Stephan Joubert