Lees Psalm 63.
Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U (v 2).
Ken jy daardie diep honger na God? Het jy ook al soos Dawid daar in die woestyn na God se teenwoordigheid gesmag? Voel jy soms soos ’n bok wat in die woestyn rondswerf op soek na water, ja, na die Here se lewende water?
Indien wel, sal jy Psalm 63 verstaan, want dit is die kreet van een van God se groot geloofshelde – iemand wat nooit genoeg kon kry van die Here se heilige teenwoordigheid nie.
Dawid het geweet hoe dit voel om deur God gegryp te wees. Weet jy ook hoe dit voel? As jy na God smag, moet jy leer om op Hom te wag. Moenie oorhaastig ’n klomp dinge vir die Here doen net om jou gewete te sus nie. Nee, sorg dat jy elke dag op jou pos is aan die Here se voete.
Neem dag na dag jou plekkie laag voor Hom in. Wag in stilte op God. Wag op die Here totdat alles in jou lewe om sy eer gaan, nie om joune nie. Wag totdat God se grootheid jou baie klein laat voel. Wag op die Here totdat die onrus binne-in jou hart plek begin maak vir hemelse vrede. Wag totdat jy daardie vaste innerlike versekering kry dat jy op die Here se koers is, nie op jou eie dwaalweg nie.
Moenie op dinge wag nie. Nee, leer om net op die Here te wag. In dié soort wag is daar groot seën opgesluit! Verklaar die res van hierdie jaar as ’n tyd van groot afwagting en geestelike honger in jou lewe, dan gaan dit jou grootste geestelike jaar ooit wees! Dan gaan God al jou honger wegvat en jou groot dors na Hom stil.
Here, hoe smag ek nie vandag na U nie!
Stephan Joubert