Lees Psalm 82.
Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind (v 3).
Wanneer God die dag op sy regterstoel in die hemel plek inneem om ’n uitspraak te lewer, sidder die hemel en die aarde. Dan spits almal hulle ore om te hoor wat Hy gaan sê. Wat God sê, gebeur immers. Hy is die Here wie se woorde dadelik in dade oorgaan.
Volgens Psalm 82 gaan God se regspraak daaroor dat mense reg moet lewe. Meer spesifiek: Dit gaan daaroor dat gelowiges harte en hande vir mense in nood sal hê. Verder moet ons ook ’n oog hê vir weeskinders, vir diegene wat geen ouers het om vir hulle te sorg en geluk in hulle kinderlewe te bring nie. Verder moet ons in die bres tree vir diegene op wie daar getrap word deur die magtiges. Ons moet sorg dat hulle regverdig behandel word. Armes wat uitgebuit word se lot moet ons so aangryp dat ons ons hande uitstrek na hulle toe om te help (v 3-4).
Ongelukkig steur baie mense hulle nie aan God se regspraak in die hemel nie. Daarom vertrap hulle die armes en die lydendes en daarom leef hulle in die duister.
God het toe besluit om sulke mense te laat sterf en om elke maghebber se mag tot ’n einde te bring. Sorg daarom dat jy aan die regte kant van God se regspraak staan. Gee ag op sy woorde en gee om vir diegene oor wie God Hom ontferm.
Here, open my oë vir mense in nood.
Stephan Joubert