Lees Psalm 84.
Hoe lief het ek u woning, Here, Almagtige! ( v 2).
Hierdie bekende psalm vertel al singende van mense se liefde vir die Here se huis. In die tyd van die Ou Testament was God se huis natuurlik die tempel in Jerusalem. Daar het die Israeliete uitdrukking gegee aan hulle toewyding en liefde vir God. Daar het hulle Hom op ’n spesiale manier gedien en sy teenwoordigheid op aangrypende wyse beleef.
Natuurlik bly God vandag nie meer in ’n gebou nie. Die Nuwe Testament leer dat God deur die Heilige Gees in ons harte bly (1 Kor 3:16; 6:19). Ons is nou lewende geboue van die Allerhoogste. Die beginsels van Psalm 84 verval egter nie omdat ons nie meer ’n sigbare tempel het nie.
Ons moet vandag steeds net so smag na God se heilige teenwoordigheid soos die Koragiete wat hierdie aangrypende lied geskryf het. Ook ons moet ’n tuiste by die Here vind. Ons moet weet dat daar regtig fonteine oopgaan wanneer ons in die teenwoordigheid van die Almagtige leef en ons moet sy goedheid soos reën oor ons laat spoel. Hierdie woorde is nie grappies nie. Ons moet met alles in ons hunker na die lewende God. Dan trek die genadesluise van die hemel bokant ons oop en reën dit sommer baie seën. Maak gereed hiervoor.
Vader, maak u teenwoordigheid ons enigste vesting.
Stephan Joubert