Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Jubel saam

Lees Psalm 95.

Kom, laat ons jubel tot eer van die Here (v 1).

Jubel saam oor God. Hy is groot en goed. Sy Naam is heilig. Daar is nie een soos Hy nie. Hy is ons rots, die Een by wie ons redding vind. Kom ons gaan na die Here toe met harte en monde wat oorloop van lof. Kom ons juig oor God. Kom ons juig Hom toe en besing sy heilige Naam.

Ons God is die Koning oor die ganse aarde. Daar is geen god behalwe Hy nie. Die diepste plekke op aarde is nie buite sy bereik nie. Ook nie die hoogste berge nie. Met sy eie hande het God die see gevorm. Ook die berge en die land is die werk van sy hande. Alles getuig van sy almag.

Kom ons val vandag in diepe eerbetoon voor ons heilige God neer. Kom ons kniel en buig laag in die stof voor Hom. Hy is ons Skepper. Hy is ons enigste God, en ons is sy volk wat Hy nadergeroep het. Soos ’n goeie herder versorg Hy ons as sy kudde. Met sy magtige hand lei Hy ons langs groen weivelde. Ook deur die donkerste dal bly Hy op sy pos langs ons.

Loof God, prys sy Naam. Sing en juig. Kom jubel saam, want daar is niemand soos God nie. Sy woorde bring lewe. Daar is genesing in sy lig. Kinders en suigelinge vind ’n skuilplek aan sy voete. Mense wat in vrees leef, vind veiligheid by sy altare. Ja, selfs die kleinste mossies is tuis in die voorhowe van die Allerhoogste.

Here, ek jubel vandag saam oor U.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.