Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Haastig om God te loof

Lees Psalm 98.

Die riviere moet hande klap, die berge moet saam juig voor die Here (v 8-9).

Ek lees gereeld die waarskuwing “Speed kills!” op bordjies langs die pad. Ek is nie aldag so seker daarvan nie. Ek dink onverantwoordelike motorbestuurders is gevaarliker, al gehoorsaam hulle ook die spoedgrens. Oral kla mense oor hoe vinnig ons deesdae leef. Pa’s, ma’s en kinders se programme is so vol dat hulle voete skaars grondvat. Die base by die werk jaag almal aan om vinniger en harder te werk. Vinniger … verder … hoër … Dit is die leuse wat vandag geld. Is dit regtig so sleg om vinnig te leef? Ongetwyfeld, veral as dit ons van God en mekaar vervreem. Maar dit kan ook ’n flou verskoning wees vir luiheid en prestasies ver benede ons Godgegewe potensiaal. Spoed per se? Nee, dis nie so sleg soos die klakouse meen nie!

Wanneer ek Psalm 95-101 lees, bespeur ek daar ’n dringendheid om God te loof. Dit is asof hierdie psalms uitroep dat ons God ’n slag met meer ywer en entoesiasme moet begin loof. Ons is te stadig. Ons is heeltemal uit pas met die skepping wat God gedurigdeur loof en prys. Ons is geestelik onfiks, daarom moet ons van rat verwissel. Ons moet ons haas om God te loof. Ons moet luister na die magtige gedruis van die riviere en die reusegolwe wat sy krag uitbasuin. Kom ons kry lewe en sing uit volle bors lofliedere tot God wat met dié van die skepping saamsmelt tot ’n magtige crescendo.

Here, gee my die krag om U met groter ywer te loof.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.