Lees Psalm 100.
Kom voor Hom met gejubel! (v 2).
As daar een ding is wat tragies is, is dit die gebrek aan entoesiasme onder kerkmense. Let ’n bietjie op hoe party van hulle lofliedere sing. Jy sou kon sweer hulle is eintlik by ’n begrafnis, so treurig lyk hulle. ’n Mens wonder soms of dit nie dalk vir hulle ’n straf of ’n pyniging is om God te besing nie. Dit hoort nie so nie. Psalm 100 maak dit duidelik dat die Here se volk met vreugde en opgewondenheid voor Hom moet verskyn.
Doen dinge met oorgawe. Gee jouself aan ander en aan die Here met toewyding en met passie. Moenie dinge teen halfpas doen nie. Dan doen jy dit in elk geval middelmatig! Dan is jy ’n geestelike onderpresteerder. Leef teen die Here se pas. As jy die honderd meter vir Hom moet hardloop, doen dit! Of ’n maraton, dan is dit ook reg so. Moet net nie spoed verloor, of ooit bang wees om voluit vir God te leef nie. Laat die lof op jou lippe gedurig oorspoel na die res van jou gesig. Wees vrolik en besing die Here met blydskap en oorgawe.
Luister tog as die Here jou uitnooi om te juig en bly te wees wanneer jy Hom aanbid. As jou lang gesig deel is van jou Maandag-tot-Vrydag-lewe, los dit ’n slag daar by die werk en kom kerk toe met ’n gesig wat straal voor God. Laat die vreugde van die Here jou hele lewe oorspoel.
Here, vergeef my vir my gebrek aan entoesiasme.
Stephan Joubert