Lees Psalm 105.
Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het (v 5).
Passie se teendeel is plig. Ken jy ook ’n klompie vaal, pligsgetroue mense? Hulle maak dalk die regte bewegings, maar hulle doen dit passieloos. Hulle doen dinge omdat hulle moet, nie omdat hulle wil nie. Daarom skuil hulle gewoonlik in veilige plekke agter regulasies en reëls. Hulle is droomloos verlore in slagofferland. Hulle sien net probleme, nooit oplossings nie. Nooit is hulle begeesterd nie.
Passie is die groot dryfveer agter suksesvolle mense – mense wat saam met Psalm 105 se skrywer jubel oor God se groot reddingsdade in die geskiedenis. Hulle doen dinge met hart en siel. Mense wat aangegryp is deur ’n droom leef met oorgawe. Hulle het nooit ’n koppie sterk koffie nodig om hulle moed te gee vir nog ’n donker dag nie. Nee, hulle drink koffie omdat dit lekker is. Hulle vuur vir die lewe kom diep uit hulle siel uit. Passievolle mense besiel jou, bemoedig jou, gryp jou aan die hart.
Hoe ken jy passievolle mense uit? Jy hoor dit in hulle taal en jy sien dit in hulle lewe. Hulle praat gevoelvolle taal en is sielvolle mense met hope energie. Die Heilige Gees se vuur is hulle daaglikse brandstof. Sorg tog dat jy tyd in die teenwoordigheid van energieke kerkmense deurbring, maar wees gewaarsku: Hulle passie is aansteeklik. Hulle besiel ander om met niks minder as net die allerbeste vir die Allerhoogste tevrede te wees nie.
Here, besiel u kinders met passie.
Stephan Joubert