Boodskap vir Vandag

Search

Kyk hoër as die hoogste berg

Lees Psalm 121.

Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? (v 1).

In die tyd van die Ou Testament het baie van die volke rondom Israel standbeelde en heilige plekke vir hulle gode teen die heuwels en berge opgerig. Hulle het geglo hoe hoër die godheid se standbeeld of offeraltaar is, hoe magtiger is daardie god. Die gode van die vlaktes was dikwels nie as so kragtig beskou soos die berggode nie.

Psalm 121 is ’n bedevaartslied wat oorspronklik geskryf is vir pelgrims onderweg na Jerusalem. Terwyl die psalmdigter die psalm geskryf het, het hy ook die hoogtes en heuweltoppe raakgesien waar sommige mense soms hulp gaan soek het. Maar hy het nie daarteen vasgekyk nie. Nee, sy hulp kom van die Here af wat hemel en aarde gemaak het. Die psalmskrywer is nie afhanklik van die een of ander berggod nie. Sy God woon in die hoogste hemel.

Die psalmskrywer weet dat die Here nooit slaap of moeg word nie. Hy is altyd aan diens, 24 uur per dag. Dit is nooit nodig om te skree om sy aandag te trek of Hom wakker te maak nie. Hy beskerm en bewaar sy mense dag en nag. Daarom laat God nie toe dat die son en maan (wat ook deur sommige as lewende magte beskou is wat positiewe en negatiewe invloede op mense kon uitoefen) enige skade aan gelowiges aanrig nie. God hou sy aardse eiendom in sy hand. Hy ontferm Hom oor sy besittings en pas hulle op. Vertrou Hom daarom met jou lewe.

Here, saam met u kinders kyk ek op na U.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.