Lees Psalm 127.
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs (v 1).
Is daar mooier woorde as dié waarmee Psalm 127 begin? Sonder die Here se seën is alles verniet; ’n gejaag na wind. Slegs met die Here se hemelse wind in jou seile loop alles seepglad.
Ons werk ons morsdood. Soos miere skarrel ons van bakboord na stuurboord. Daar is nooit tyd vir niksdoen of stilsit nie. Nie eens as ons doodmoeg ná ’n dag se gejaag in ’n gemakstoel neersak nie. Daar is altyd nóg ’n afspraak wat wag, nóg ’n telefoonoproep … Ons moet mos alles self doen: die aarde se pilare regop hou; die land red; die kerk eiehandig in stand hou; vergaderings bywoon; kalwers uit die put haal, noem maar op.
Psalm 127 bied ’n veel beter uitweg. Dit sê: Vertrou op God om die werk te seën, so nie is alles in elk geval ’n groot mors van energie. Die Here gee immers dít wat sy geliefdes nodig het, sommer so in hulle slaap vir hulle (v 2).
Om op die Here te vertrou, beteken dat jy die beheer oor alles in jou lewe afstaan en Hom toelaat om oor te neem. Dan kry jy nie meer spanningshoofpyne oor wat jy nog moet reël en waarvoor jy moet sorgdra nie. Nee, dan bring jy jou kant onder die versorgende hande van God en laat die res aan Hom oor. Dit beteken nie jy moet ydel rondsit as jy God vertrou nie, maar jy hoef ook nie die wêreld op jou skouers te dra nie. Dit los jy rustig oor aan die Here.
Here, bou my lewe vandag tot u eer.
Stephan Joubert