Lees Psalm 141.
Sit ’n wag voor my mond, Here (v 3).
Hoe maklik kom woorde nie oor ons lippe nie. Soms te maklik. Vra my, ek weet. Ek moet baie optree. Elke Sondag is dit twee keer preek, dan is daar nog ’n klomp Bybelskole, Bybelstudies en seminare in die week. Ek praat eintlik te veel.
Soms met slegte gevolge, want ek het al baie mense in my lewe aan die slaap gepraat. Ek sien mos van die kansel af hoe hulle koppe knik. En dit is nie omdat hulle saamstem met alles wat ek sê nie …
Een aand het ’n klein seuntjie vir my kom sê: “Oom het my nog elke aand aan die slaap gepreek.” ’n Ander keer het ’n ouderling vertel dat, terwyl ek gepreek het, hy skielik gehoor het hoe die man langs hom dieper begin asemhaal. Later het hy begin snork. Toe die ouderling liggies aan hom stamp, het hy slaperig gesê: “Askies, skat, ek draai om!” Tot vandag toe weet ek nie of dit ’n grap was of nie.
Die punt is dat ons versigtig moet wees met ons woorde. Psalm 141 sê ons moet ’n hemelse wag voor ons lippe plaas. Ons moet ons monde dig toehou as ons dwase woorde, of ligsinnige taal, of lelike opmerkings, of snydende dinge met ons tonge beplan. Dan moet ons die Here smeek om sulke taal in ons monde te vries. Slegs Godverheerlikende taal durf daagliks oor ons lippe kom.
Here Jesus, hou my tong vas in u hand. Stephan Joubert