Lees Genesis 39:19-21.
Terwyl Josef … in die tronk was, was die Here by hom (v 20-21).
Josef se nuwe lewe in Egipte het spoedig ’n drastiese wending geneem toe hy die slaaf van ’n hooggeplaaste Egiptenaar, Potifar, geword het. Maar o wee, mevrou Potifar kon haar hande nie van Josef afhou nie. Die uiteinde? ’n Skandaal en ’n klag van poging tot verkragting teen Josef. En tronkstraf vir hom! Dit alles omdat Josef geweier het om toe te gee aan ’n oomblik van vleeslike plesier. Hy was bereid om selfs tronk toe te gaan vir sy beginsels. Wat ’n duur prys om te betaal!
Mense wat bereid is om groot offers te bring vir hulle geloof, soos om hulle werk te verloor, of om ter wille van die waarheid tronk toe te gaan, weet waardeur Josef moes gaan. Maar God verlaat nooit sy mense in hulle donkerste uur nie. Inteendeel. Selfs daar in die tronk was die Here by Josef. Hy het hom so geseën dat die tronk kort voor lank in ’n plek van seën verander het. Almal wat met Josef te doene gekry het, het geweet: Dit is ’n spesiale man hierdie. Nee, hier is iemand wat in pas loop met sy God!
As dit vir jou tans moeilik is om vas te hou aan die Here, moet jy asseblief tog nie nou tou opgooi nie. Byt vas. Bly op jou pos. Staan sterk. God sal jou nie deur sy vingers laat glip nie. Hy sal jou versterk en jou met sy genade staande hou. Hou maar net onverskrokke vas aan sy goedheid. Veral vandag!
Here, leer my om altyd aan U getrou te bly.