Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Geloof raak elke dag grond.

Lees Nehemia 5:1-9.

“Julle moet tog eerbied vir ons God hê in julle optrede” (v 9).

Om die een of ander rede kry sommige gelowiges dit goed reg om hulle geloof in ’n ander kompartement te bêre as die res van hulle lewe. Sondae trek hulle hulle “geloof ” heel vroom aan kerk toe, maar die res van die week, in die “regte lewe”, dra hulle heeltemal ander klere. Dan sê hulle woorde en dade iets heeltemal anders.

Dit het daar in Nehemia se tyd ook met ’n klomp Jode gebeur. Hulle het begin om die arm volksgenote onder hulle uit te buit sodat baie van daardie mense se kinders selfs as slawe verkoop is. Nehemia het dadelik ’n volksvergadering belê toe hy dit hoor. Daar het hy toe onder die rykes ingeklim wat toegelaat het dat hulle arm volksgenote as slawe verkoop word. Nehemia het daarop aangedring dat hulle daardie mense se grond aan hulle teruggee en hulle van die rente kwytskeld wat hulle geskuld het.

Geloof vra ’n konsekwente lewenstyl. Jy kan nie die Here op Sondae dien en Maandae ander mense uitbuit nie. Jy kan nie met jou mond die Here loof en met jou geld Mammon dien nie. Geloof vra dat elke deel van jou lewe in die Here se soeklig kom. Jy moet elke dag van jou lewe tot eer van die Here leef. Ook in jou menseverhoudings. Jy mag nooit ander uitbuit wat arm is of swaar kry nie. Nee, jy moet hulle juis beskerm teen al die uitbuiters en bloedsuiers van die lewe. Wees vir hulle tot hulp en steun.

Here Jesus, maak my ’n beskermer van dié wat ly.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.