Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Wees maar net op die regte plek op die regte tyd

Lees Ester 2:19-23.

Terwyl Mordegai in die poort van die paleis gesit het, het Bigtan en Teres … saamgesweer om koning Ahasveros te vermoor (v 21).

Tydsberekening is alles. As jy op die regte tyd op die regte plek is, is jy baie bevoorreg. Waar jy op ’n gegewe tydstip is, is soms belangriker as wat jy doen en sê. Vra maar vir Mordegai, Ester se oom, want hy was op ’n dag presies op die regte plek op die regte tyd. Hy het maar net in die stadspoort van die paleis gesit, niks meer nie. En toe, terwyl hy die dae daar omsit, het hy bevriend geraak met die wagte wat die paleis oppas. Dit is toe dat hy hoor van ’n komplot om die koning te vermoor. Praat van tydsberekening! Sonder dat die soldate dit geweet het, het Mordegai stilletjies vir Ester gaan vertel van die komplot. Op haar beurt het sy met die koning gaan praat, wat die twee manne toe laat ophang het.

’n Mens sien God se hand duidelik in hierdie gebeure raak. Dit is Hy wat gesorg het dat sy kind op die regte plek is. Mordegai moes as’t ware soos ’n geheime agent van God in die poort rondhang sonder om iets te sê. Hy moes maar net daar wees. En toe, op die regte oomblik, gebruik God sy ore! Toe Mordegai hoor wat aan die kom is, kon hy iets doen. So het sy “spioenasiewerk” die koning gered.

Dalk voel jy nou half nutteloos vir die Here. Dalk voel jy Hy gebruik jou nie juis nie. Wel, miskien is jy nou op ’n geheime sending sonder dat jy dit weet. Wees maar net waar jy is. Dit is die regte tyd en die regte plek. God gebruik jou juis daar, al dink jy nie so nie!

Here, open tog my oë vir u werk agter die skerms.

Stephan Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.